BUFFELSBAAI SOOS EK ONTHOU.

Ingeborg Kunitz is Buffelsbaai se oudste inwoner en woon nog steeds alleen in haar huis “Stavanger” in Walkerstraat. Sy is in Goukamma gebore (Schonken) en het daar grootgeword. Sy en haar seun Carolus is welbekend aan die Buffelsbaaiers. Ingeborg het `n paar van haar herinneringe met ons gedeel.

Ek was ongelukkig nie hier toe Buffelsbaai ontwikkel is nie – ongeveer 1957 tot 1960.   Sover ek gehoor het, was daar só baie aansoeke vir erwe, dat hulle sodoende die erwe wat hul kon, in twee moes deel. Die eienaars was vir ongeveer 30 jaar paghouers en hulle moes binne twee jaar hul huise bou. Slegs een erf per persoon. Die meeste huise was deur ‘n Mnr. Crafford gebou, van asbes en almal in dieselfde boustyl. Hier was drie huisies vir die werkers van die afdelingsraad.

Buffelsbaai is, net soos Knysna, as vis-en-patat land bekend

Ek het as kind hier kom vakansie hou. Daar was nie `n pad na Buffelsbaai nie. Ons het met die muile-wa tot hier gekom en in ‘n tent gekamp. Ongeveer 1944 is die pad gemaak – ‘n grondpad met ses hekke.

Hier het verskeie vissermanne gewoon. Hul het met ‘n roeiboot vir ses manne, goed vis gevang. Die enigste huis van die vissers wat ek kan onthou, was dié van die booteienaar Jakob Muller wat hier waar my huis is, teen die bult gestaan het. Ons het soms met die paadjie voor sy huis verby geloop om by die punt (Karavaanpark) uit te kom. Langs die paadjie was daar hope alikreukel skulpe. Ook was daar altyd baie gedroogde vis aan drade. Jakob Muller was ‘n ordentlike en gerespekteerde bruinman met ‘n groot bos grys baard. Ek is seker daar moet van sy nasate in Knysna wees. Hy het gereeld met ‘n donkie by my Pa kom kos en patats koop.

Visvangs op Buffelsbaai

Die ervare vissermanne het baie vis gevang, as die gety hul toegelaat het om in te gaan. Ek glo hul het presies geweet wat om waar te vang. Meestal Geelbek en Kabeljou en dan net ‘n paar Rooies of Romans vir die pan. Af en toe was daar ‘n stokvis by, maar beslis nie populêr nie, want niemand het yskaste gehad nie.

My Pa het Jakob Muller se roeiboot en nog ‘n boot gekoop toe Jakob afgetree het. Hy het ‘n stoor gebou daar waar die restaurant is vir die bote. Die stoor het onder die sand toegewaai.

Die vissermanne het baie vis gevang, maar die jongman wat my pa gehuur het om met my pa se paneelwa die vis te kom haal, het die vis vir eie gewin verkoop. My pa het toe die bote aan ‘n Hollander verkoop. Hy het egter vir die vissermanne drank gegee en so het dit ook gebeur dat hul fouteer en ingeggaan het om vis te vang. Hul boot het omgeslaan en al ses mans het verdrink.

Waterbronne

Die vissers se enigste bron van water was ‘n put in die sand ongeveer daar waar Fanus Botha se huis nou staan. Daar was ‘n emmer met ‘n lang tou (ongeveer 1 meter lank) aan ‘n paal waarmee die water geskep is.

In die middel van die karavaanpark tussen kleiner rotse was daar ook ‘n poel water, meestal slymerig tog dink ek die wildsbokke het dit gedrink.

Naby die riviermond, tussen die Port-Jackson bome was daar ‘n fontein met kort gras rondom, daar het ons baie gaan piekniek hou.

Die riviermond het verskuif en was hoër op, dit het selde toegespoel en as die soutwater opgestoot het tot by die plaas, het die spoorwegwerkers dit gaan oopgraaf. In die rivier was baie plekke met blou waterlelies selfs tot na aan die natuurreservaat se geboue. Nou is die rivier water meestal te sout en is daar geen lelies.

Skulpe en seekos

Hier was eers baie skulpe veral hier voor my huis. Baie see pampoentjies, van piepklein tot groot. Met laagwater baie alikreukels (ons het dit perdekuile genoem) en mossels. Ook baie seekatte en tot vandag toe, spoel hier baie rooi-aas uit.

Op die verste punt by die karavaanpark kon ons met laagwater by die gruisgat uitkom, ‘n lang sloep tussen die rotse op vol gruis, daar het ons tot diep in die gruis die mooiste skulpe gekry. Nie te groot soorte nie. Vandag is daar gladnie meer gruis of skulpe nie.

Langs die see op pad na Brenton toe was daar twee rotsriwwe wat van die wal tot in die see geloop het. Ons moes tussen die rotse deurklim om daar te loop. Die riwwe is vandag heeltemal toe onder die sand. Beide die riwwe het baie oesters en mossels gehad. Die oesterstekers het gereeld kom oes.

Ander diere

Vroëer was daar rondom Buffelsbaai jagluiperde, rooikatte, ratels, otters, ystervarke, bosbokke, grysbokkies, baie hase, skilpaaie en muishonde. Die hele Goukamma aan hierdie kant van die rivier is geregistreer as Buffelsvermaak. Aan die ander kant van die rivier is dit Gansvlei. Van die buffels weet ek niks en het ongelukkig ook nooit gevra nie.

 

Ingeborg Kunitz